Barco Beefmaster bees en wildboerdery word bedryf in die Ellisras bosveld area op die plaas Pretoriuskloof en naby geleë huur grond. Die plaas is in die 1970’s deur my oorlede oupa, Jan du Buys, gekoop omdat sy groot droom altyd was om ‘n bosveld plaas te besit. Alhoewel hy al die jare op Carletonville se goudmyne as mynbestuurder werksaam was, wou hy altyd aftree in die bosveld. Ek is die jongste van vier kinders en ons is gebore en het groot geword op die familie plaas in die De Rust omgewing van Oudtshoorn in die Klein Karoo. Waar die boerdery hoofsaaklik uit volstruis en groentesaad verbouing bestaan het. My laerskool dae was op Oudtshoorn en my Hoërskooldae het ek aan die Hoër Landbouskool Oakdale deurgebring waar ek ook gematrikuleer het.
Alhoewel ek op skool skaap en klein graan verbouing as vakke gehad het sou ek nooit kon dink dat ek ‘n bees- en wildboer sou word nie. Vandaar is ek na Potchefstroom waar ek B.Com BWI gaan studeer het. Gedurende hierdie tydperk is ons plase deur die regering onteien en my ouers het die groot besluit geneem om hul wortels op te trek en na Ellisras te verhuis. Na die Pukke het ek ‘n draai in Engeland gaan maak en teruggekeer na Suid Afrika in 2007, geensins gedink my toekoms gaan met beeste wees nie, maar a.g.v. my pa en ma se gesondheid was ek genoodsaak om hul boerdery oor te neem.
Ek het met die Beefmaster as beesras te doen gekry deur oom Hardus Steenkamp en Frans Schoeman, die ras het my beïndruk en ek’t besluit om my eerste Beefmasterbul te koop, ons kommersiële beeste het bestaan uit simbra en simmentaler/bonsmara kruis koeie en ek’t gedink die beefmaster sou n goeie speenkalf teel uit die bestaande koeie. Met my doel voor oë om ‘n goeie bul te koop is ek na die Limpopo beefmaster klub veiling in 2010. Met my broer, Johan as geselskap oorreed hy my om toe ook n paar vroulike diere te koop, op die ou end van die dag gaan ons daar weg met ‘n vragmotor vol diere en vandaar het my stoet begin. As leek het ek net gekyk na die bouvorm van die bees en as dit reg was het ek gekoop, geensins na die syfers nie, so ek’t onnodige skoolgeld betaal vir my oningeligtheid maar dmv ander telers se raad, kennis en ondersteuning het ek gou op die regte pad gekom.
So amptelik registreer ek die stoet in Mei 2010. Die stoet is opgebou uit die kuddes van Hardus Steenkamp, Mike Bosch, Kerneels van Rensburg, Beefmaster Alliance en Bos Blanco. Om te boer in die Bosveld is nie maklik nie, reënval is die afgelope jare baie wisselvallig en die afgelope droogte het ons weidings ‘n groot knou gegee en tesame met die indringer bos soos sekelbos en geelhaak word die drakrag baie beïnvloed.
By die stoet en die kommersiële beeste moet ‘n koei elke jaar ‘n kalf kan lewer en groot maak. Daar’s geen korttermyn kompromie vir kwaliteit nie en op die ou end gaan alles oor rand en sent. Eks nog in die uitbreidings fase maar selekteer streng, ek verkoop ook nie ‘n dier wat ek self nie in my kudde sal gebruik nie. Al bly dit moeilik om ‘n dier wat op die oog perfek is, maar op papier nie presteer, uit die kudde te haal, is dit die beste en vinnigste manier om my kudde te verbeter.
Boerdery en veral die stoet beeste bly vir my ‘n passie waarin ek my kan uitleef en om te sien hoe die nuwe aanteel elke jaar verbeter bly ‘n aansporing om aan te gaan al is die bedryf nie altyd maklik en rooskleurig nie. Ek dank net ons Hemelse Vader vir die voorreg om te kan boer en elke dag tussen my beeste te kan wees, dis geensins ‘n reg nie maar net ‘n voorreg.